Gebedsbrief

Adullam Sending

een in liefde, een van hart, een in strewe

Kersgety ... Seisoen van Omkeer

Indien die Here dit op u hart lê en u graag by Adullam Sending se projekte betrokke wil raak, is u welkom om ons te           kontak. Adullam-kantoor: Tel (017) 689 2001 / 4  of  E-pos: adullamaca@secunda.co.za. Die Here seën u!

Indien u betrokke wil raak

UITGAWE:  Desember 2009                                                                                                                                                          1

.    Die WOORD het MENS geword!   .  Joh 1:14   .

En al die bome van die veld sal weet dat Ek, die HERE, die hoë boom verneder, die nederige boom verhoog het; die groen boom laat verdroog en die droë boom laat bloei het. Ek, die HERE, het dit gespreek en gedoen.

Esegiël 17:24

 

Die Here kan dinge omkeer en doen dit ook dikwels in ons lewens, maar hier verwys dit spesifiek na Jesus Christus: Die hoë boom word verneder en verdroog en die nederige boom verhoog en laat bloei. Jesus sê in Matt.23:12: “Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word”.     

 

 

 

Met Kersfees vier ons juis dit: die groot omkeer van alles.

 

Die feit rondom die groot omkeer

 

D omkeer het twee pole: Vernedering en Verhoging.

 

Vernedering is die omkeer van groot na klein; van eer wat eindig in skande. Elke bron is verdroog. Voorspoed loop uit op nood en armoede.

 

Verhoging aan die anderkant is die omkeer van klein na groot. Die takkie wat ʼn Seder word - die vernederde Jesus word die groot Redder en verhef tot die regterhand van God. Die droë boom floreer en bloei. Op die skande van die kruis volg die vryspraak wat beskikbaar is vir ons elkeen.

 

So het Christus die uiterste vernedering deurgegaan om mens te word, te sterf en vir ’n wêreld - siek aan sy sonde - te betaal. Dit is dié wonder wat ons in hierdie dae vier. Maar vir die wonder om in ons lewens te gebeur, moet ons elkeen ons  voor Christus Jesus verneder, ons eie sonde sien, bely en daarvan wegdraai sodat ons verhoog kan word. Wat ‘n voorreg tot vernuwing!

 

Indien dit nie gebeur nie, sal ons vernedering op die oordeelsdag plaasvind.

 

Die rede vir die omkeer

 

Dit word aan God toegeskryf. Hy verhoog en Hy verneder. Niks is vir Hom te groot om om te keer nie. Dit is nie dat God teen die voorspoed van sy kinders is nie. Die vraag is of ons met God in die tye van voorspoed rekening hou. Dit is nie dat God bloot die hoë verneder en die lae verhoog nie. Nee, vernedering is die straf op die soek van eie belang, en verhoging die beloning vir self-opoffering (Sien hoe Paulus dié les aflei uit die kruis). Fil. 2:4-11

 

Die sigbaarheid van die omkeer

 

Al die bome van die veld sal weet. Die handelinge van God is in die ope. Die skande sal nie verberg kan word nie. Die hoë sal in die modder getrap word en almal sal dit weet. Net so sal die verhoging van die vernederde ook nie geheim wees nie!

 

Die bogenoemde feite hou ʼn waarskuwing in vir die trotse en die een wat sy eie belang soek, maar ook ʼn bemoediging vir die nederige en die onselfsugtige. Laat ons hierdie Kersfees vier met die gesindheid van dank aan God wat mens geword het en laat ons met ons hele lewe Jesus se voorbeeld na-leef.

 

Mag die Kerstyd vir u elkeen ʼn wonderlike ervaring wees. Mag u in 2010 God se seën beleef.       
 Dankie vir al u gebede en bydraes vir die werk hier. Ons waardeer dit opreg.

Mag die Here u seën.

 

Japie Malan

Adullam Sending